~ Nicole Meyer
Na afloop van ‘n uiters suksesvolle graad 8-kamp, betree die moeë graad 8’s Hoërskool Oosterlig op Maandag, 10 Januarie 2022. Diè klomp het beslis ‘n groot indruk op elke personeel- en leierskomiteelid gemaak toe hulle met hul positiefste gesindheid hul opwagting maak, slaggereed vir die verskeie assesserings- en sportaktiwiteite wat sou plaasvind.
Gedurende die eerste helfte van die dag, was die leerders se kennis getoets en het hulle elke taak met ywer aangepak. Met gelaaide energie skop ons die tweede deel van die dag af getrou aan die egte Oosie tradisie: die pawiljoene het behoorlik gedreun onder leiding van Me. Herron, die termometers en die Oosienarre. Met hulle litte los, is ysterkloue in die grond geslaan en het die Groentjies uitgedun om deel te word van die Oosie-atletiekspan. Die leerders het weereens die personeel in verwondering gelaat, aangesien geen graad 8 geskroom het om elke aktiwiteit met volle geesdrif aan te pak nie. Alhoewel die graad 8’s nog nie volwaardige Oosies is nie, pluk hulle alreeds die dag.
Die daaropvolgende dag moes die leerders weereens hul breinkrag inspan om die assesserings te voltooi. Met die nodige akademiese toerusting is die Groentjies voorbereid vir hul eerste hoërskooldag. Na die naweek se opwinding en die afgelope twee dae se klipharde opleiding, het hulle ‘n welverdiende blaaskans ontvang om ten volle voorbereid te wees vir die akademiese skooljaar wat op 12 Januarie sou afskop. In rekordtyd het die Groentjies reeds besef dat Oosterlig ‘n skool is waar prestasie nog pret is. Ek is vas oortuig dat daar ‘n blink toekoms op die Oosie-matriekklas van 2026 wag.
OosterBeeld Joernalis
Nicole Meyer
Ek is Nicole Meyer ‘n nuwe lid van die Oosiebeeld redaksie span. Ek het ‘n passie vir skryfkuns en wil graag van hierdie platform gebruik maak om ‘n herlewing in skryfkuns aan te huts.