~ Chiara Dover
Vinniger. Hoër. Sterker.
Dit was die visie waarmee mevrou Koekemoer die Oosterlig pompoms 29 jaar gelede begin het. Mevrou Koekemoer raak nog nostalgies oor hulle eerste liedjie: O Fortuna Carmina Burana.
Op daardie stadium was seuns nog deel van die pompoms om te help met optelaksies. Dít is totdat een seun onbetroubaar was en van daar af het mevrou Koekemoer besluit dat die meisies dit self kan doen.
Hier is ons nou, amper dertig jaar later met ‘n uitmuntende suksesvolle pompom-span. Die pompoms is gebou op behoudende tradisies, wat stories vertel waarvoor jou kleinkinders se monde sal oophang.
Een van die tradisies, nadat die pompoms gekies is, is die gevreesde oefenweek. Daardie term wek koue rillings en effense opwinding by enige pompom. Die oefenweek vind tydens Desember/Januarie plaas. Nege uitmergelende ure per dag – 5 dae lank! Dit bied die pompoms die geleentheid om elke danspassie perfek te bemeester ter voorbereiding vir die Oosie-kritiek. Ons het immers hoë standaarde!
Die meer-gevreesde ontgroening is tydelik afgestel, terwyl almal nog herstel van die grendeljare. Natuurlik sal elke Oosie die eerste pompomoptrede kan onthou by die Interhuis waar ons blootgestel is aan die nuwe generasie rasieleidsters. Kon mens hulle nie raaksien met hulle helderpienk hemde nie? Die kreet: “Barra, barra, barra. Berri, berri, berri. Barra-berri-hoo” is in die harte van elke Oosie gegraveer.
Natuurlik is die pompomoorslaap een van die hoogtepunte vir elke pompomlid en deel van die tradisie. Al sestien meisies slaap by die hoofpommie se huis die aand voor Interhoër oor. Hulle oefen, swem, luister musiek, neem foto’s en geniet elke oomblik van die oorslaap. Met die Groot Dag, is die pompoms reeds 3 uur op die been om voor te berei vir dié dag – die Interhoër!
Marné de Swart sê: “Ek voel deel van die familie. Ons het baie hard gewerk en deur dik en dun saamgestaan.”
Dankie aan Kaylize Schutte, die hoofpompom, en Leandri Scheepers en Avonique van Rooyen, die onderhoofpompoms, wat die Oosie-pompoms tot ‘n glorieryke en elegante optrede gelei het. Dit getuig van al die harde werk en baie oefening!
“This year’s pompoms are pretty; their dance was entertaining and the lifts were perfect. A pleasure to watch on the field and a pleasure to have on the pavilion.” – Mrs. G. Herron.
Die Oosies se ondersteuning tydens hul dans was: “Wow, wow, wow!” Hulle ondersteuning was soos ‘n skeut espresso.
“Hulle was puik. Well done, dames!” – Mnr. B. Bradford. Dankie aan meneer wat die pompoms stiptelik en veilig na die stadion en terug vervoer het.
Die hoofpompom, Kaylize, wil julle met hierdie woorde laat: “Ek weet eintlik nie wie my as ‘n leier inspireer nie… En die danse – ek het ‘n liefde vir dans wat niemand ooit sal verstaan nie. Dit is iets waarvoor ek met my hele hart lief is. Dit is my talent wat Jesus vir my gegee het. Almal het ‘n talent en ek voel dans is my talent. Ek luister musiek en dan pop daar bewegings in my kop op. Ek kyk ook baie video’s oor danse om idees te kry. Ek het aanvanklik gestres, want dit was my eerste jaar wat ek eintlik alles moes doen en reël. Ek was nie seker of dit so maklik gaan wees nie, en dit was nie altyd maklik nie. Daar was tye wat ek myself gevra het: Kan ek hierdie doen? Is ek goed genoeg om dit te kan doen? Kan ek hierdie span lei? Maar ek dink alles was die moeite werd: Die trane, die moegheid en al die fiksheidsoefeninge. Dit alles het ons die span gemaak wat ons tydens Interhoër op die veld was. Ek het ‘n spesiale plekkie vir al die pompommeisies in my hart. Hulle is nie net my pompoms nie, maar ek gee regtig om vir hulle. As ek by die skool is, voel dit vir my soos my huis as ek by die pompommeisies is. Hulle elkeen het baie talent en ek is baie trots op al die harde werk wat hulle ingesit het. Ek dink nou dat dit hulle is wat my inspireer. Die meisies wat aanhou veg, aanhou baklei en elke keer terugkom. Hulle is díe mense wat my inspireer om elke dag terug te gaan en aan te hou. Dis hulle wat vir my ‘n liefde vir POMPOMS gegee het. Hulle inspireer my, omdat hulle so baie gegroei het. Die helfte van ons kon nie eers spreibeen sak nie. Nou is dit vir ons niks om dit te doen nie.’n Paar van ons kon nie eers ‘n wawiel doen nie en kyk nou! Dit is wonderlik wat ons almal bereik het!”
“Onder die stadsligte is daar ‘n wêreld waarvan min weet.”
Dis Oosieland en die pompoms, saam met die ander Oosies, is trotse burgers daarvan!
Volgende jaar sal hulle weer vinniger, hoër en sterker wees.