~Abigail Maritz
Ná ‘n langnaweek keer die Oosies terug na die skool, reg om die week aan te pak en die dag te pluk, maar Onderwêreld is al wat op die Oosterlig matrieks se lippe is.
Op Dinsdag, 2 Mei 2023, vertrek drie busse vol opgewonde graad 12’s na Hoërskool Dr EG Jansen, gereed om hul ‘front row seats’ in te neem vir vanjaar se Onderwêreld-vertoning.
Met die Oosie-matrieks se aankoms by Hoërskool Dr EG Jansen is daar gretig aangesluit by hul mede-matriekgroepe:
-Hoërskool Delmas
-Hoërskool Dr EG Jansen
-Prestasieskool
Kort voor lank is die deure oopgemaak en kon almal hul sitplekke inneem. ‘n Opwindende en nuuskierige atmosfeer het die vertrek gevul. Dit het duidelik geblyk dat die leerders in hul noppies was om hul voorgeskrewe boek in lewende lywe op die verhoog te sien afspeel. Vir 80 minute het die matrikulante ‘n ongelooflike vertoning beleef wat hul denke sou uitbrei.
Bekende akteurs soos André Lotter, Ruan Wessels, Christopher van der Westhuizen saam met nog vele ander het hierdie opvoering op ‘n wonderlike en kreatiewe manier uitgebeeld. Hierdie vertoning is vir seker een vir die boeke, met baie oomblikke van erns, skok, uit die maag uit lag en die skielike hitte in die saal toe Eckardt en Greg vir hul strand toneel opstap…
Om Onderwêreld op die planke te beleef was ‘n wonderlike ondervinding vir die Oosterlig -matrikulante sodat Fanie Viljoen se boek vanaf ‘n ander perspektief beleef en geÏnterpreteer kon word. Die vertoning was nie net ‘n aangename uitstappie nie, maar ook ‘n besonderse geleentheid vir die leerders om hul kennis oor die boek uit te brei en ‘n beter begrip rakende die inhoud van Onderwêreld te bekom. Die vertoning was ‘n absolute sukses en die akteurs ongelooflik! Die matrieks het deur die visuele uitbeelding baie geleer en die onderwysers het dit net soveel geniet as bewys dat leer ook pret kan wees.
Toe die Onderwêreld roep, het die Oosie-matrieks gretig geantwoord.











