~ Monique Alberts

Vrydag, 6 Januarie, verwelkom die Oosies ons nuwe lede, die graad 8’s van 2023, deur af te skop met ‘n lekker inlywingskamp. Na ure se toustaan vir registrasie begin die kamp met ysbrekerspeletjies sodat die vreemde graad 8’s mekaar kan leer ken voordat hul aan die skool bekend gestel word. Die kamp was propvol speletjies – die waterkaskenades was natuurlik ‘n hoogtepunt vir almal. Ten spyte van die weer wat die graad 8’s verplig het om hul passie vir dans uit te brei, was elke oomblik binne die lokale en op die terrein ‘n fees.

Die laaste dag breek na min slaap aan, maar selfs met lae energievlakke hou die leierskomitee die tradisies hoog. Vroegoggend is die graad 8’s reeds wakker gemaak sodat die waardes en etos van ware Oosies by hul te weeg gebring kon word – die aanleer van die Erekode is natuurlik prioriteit. Die kamp is afgesluit met ‘n pragtige kerkdiens. Danksy meneer Nel, juffrou Van der Walt, oom Piet en al die graad 8-voogonderwysers onder leiding van juffrou Dela Guerre, die leierskomitee, en natuurlik die graad 8’s wat dié kamp ‘n reuse sukses gemaak het.

Waar die res van Hoërskool Oosterlig eers op 11 Januarie hul vakansie afgesluit het om die nuwe jaar aan te pak, het ons graad 8’s reeds op 9 Januarie by Hoërskool Oosterlig se ‘Bootcamp’ gearriveer om Afrikaans, Engels en Wiskunde toetse en atletiekuitdunne af te lê.

Ons Flatties was uitgeput, maar eindelik gevul met die regte inhoud om by die res van die Oosies aan te sluit. Flatties, welkom by Hoërskool Oosterlig. Ons verwelkom julle by ons Oosie-familie!

Kyk hier na die Graad 8-kamp fees van foto’s