Geesweek by Hoёrskool Oosterlig het hierdie jaar kleurvolle uitrustings, geesdrif en ‘n opwindende ervaring vir leerders gebring.
Dinsdag: Kleurvolle sokkies met Crocs of vellies
Die week het afgeskop met ‘n bont vertoning van kleurvolle sokkies en die keuse om Crocs of vellies daarmee te dra.
Woensdag: Valentynsdag met ‘n stukkie rooi
Valentynsdag het ‘n romantiese draai aan die week gegee. Almal is aangemoedig om hulself mooi te maak met ‘n stukkie rooi. Die leerders het hulself versier met rooi dasse, strukkies en ander kreatiewe uitrustings, wat ‘n spesiale en liefdevolle atmosfeer geskep het.
Donderdag: Geesvang ter voorbereiding vir Interhoёr
Donderdag het aangebreek met ‘n lang aktiwiteitsperiode, waar leerders betrokke was by geesvang saam met juffrou Herron. Hierdie het nie net gedien as ‘n manier om die opwinding vir die naderende Interhoёr op te bou nie, maar ook as ‘n geleentheid vir die leerders om hul gees te wys.
Vrydag: Interhoёr en Oosies se Trots
Die hoogtepunt van die week was ongetwyfeld Vrydag, toe die lang verwagte Interhoёr plaasgevind het. Hoёrskool Oosterlig het ‘n indrukwekkende vertoning gelewer en het die derde plek in die geeskompetisie verower. Die Oosies het saamgewerk en hul trots en liefde vir hul skool helder uitgestal.
Kayla van Dalen