~ Nicole Meyer
Margaret Mead se bekende spreekwoord lui: “We are at a point in history where a proper attention to space, and especially near space, may be absolutely crucial in bringing the world together.”
‘n Buitestaander sou heel moontlik die Groentjiekonsert as ʼn suksesvolle, vermaaklike vertoning beskou wat kon plaasvind danksy maande se deeglike beplanning, weke se klipharde oefening, en die drie opeenvolgende optredes waarin die lewenslustige Groentjies behoorlik geborrel het. Die produksiespan, leierskomitee en graad 8’s het egter besef dat hierdie konsert veel dieper sou strek as bloot ʼn uitstekende produksie.
Elke aand het die Groentjies hul opwagting gemaak en kon die entoesiastiese gegons wyd en suid gehoor word . Die skoolsaal was, in lyn met die COVID-19 regulasies, stampvol gepak en die atmosfeer van afwagting was amper tasbaar. Na ʼn gewyde opening deur die hoofleiers, Joscelyn Wessels en Jurie Pienaar, skop die vertoning met ʼn gejuig af toe die bekende treffer van Irene-Louise van Wyk, Tekkies Brand, deur die luidsprekers weerklink.
So reik ons na die sterre met liedjies soos; Hoogtevrees (Adam) en All star (Smashmouth). Na afloop van ʼn welverdiende pouse bevind die gehoor hulself op ʼn verkenningsreis deur die hemelruim met gunstelinge soos; Sky full of stars (Coldplay), Counting stars (One Republic), en Soos die son (Elvis Blue).
Die konsert eindig elke aand op ʼn hoё noot met meneer Nel se gunsteling, immergewilde, “hasie”-liedjie: Bad Moon Rising (Clearance Clearwater Revival). Die finale aand (Donderdag, 27 Januarie 2022) se vertoning, ook bekend as die gala-aand, was beslis ʼn belewenis. Net soos die leierskomitee dink dat die Groentjies hoegenaamd nie ʼn beter vertoning kan lewer nie, oortref hulle alle verwagtinge met ‘n skitterende vertoning – dit was iets uit hierdie wêreld! Na twee jaar se uiteenlopende onbekendheid was die Groentjies én elkeen van ons verheug oor die mate van normaliteit wat 2022 se Groentjiekonsert gebied het.
Per slot van sake het elkeen besef dat nie een van ons die reis van die lewe deur die pragtige sonnestelsel alleen hoef aan te pak nie. Deur hierdie tydsame, soms vermoeiende, reis het elkeen sy stempel afgedruk en mekaar gevind. Die produksie was meer as nét ʼn groentjiekonsert. Dit was waarlik ʼn geleentheid om hegte bande met mekaar te smee, nuwe mense te leer ken, herinneringe te skep – voorwaar die perfekte manier om die graad 8’s met die res van die skool te verenig en meer as dit – om die Oosie-gemeenskap te hervestig.
Wanneer uitdagende omstandighede hul kop uitsteek, hoop ek dat die Oosterlig-klas van 2026 hul leuse vir die jaar in hul harte sal koester: “Ad Astra” – reik na die sterre!

OosterBeeld Joernalis
Nicole Meyer
Ek is Nicole Meyer ń nuwe lid van die Oosiebeeld redaksie span. Ek het ń passie vir skryfkuns en wil graag van hierdie platform gebruik maak om ń herlewing in skryfkuns aan te huts.