~ Kayleigh van der Merwe
Dinsdag, 25 April 2023, is die hoofleiers van verskeie laerskole in die omgewing uitgenooi om die jaarlikse Oosie-internskap by te woon. Die hoofleirs is deur die Oosterligbussies opgelaai om hulle na die ‘groot skool’ te neem. Dit was moontlik oorweldigend om die eerste voorsmakie van hoërskool te ervaar, maar nadat die nuwelinge eers die sjerbet – wat hulle self in Gasvryheidstudies gemaak het – geniet het, het die vrese verdwyn. Vandaar het hulle by die graad 11-wetenskapklas aangesluit voordat hulle ‘n dubbel wiskundeperiode aangepak het. Pouse is die snoepie se smaaklike roosterbroodjies geniet terwyl daar met die Oosie-leiers gesels is. Teen die einde van die skooldag kon elkeen van hulle slimmer weg stap en met ‘n goeie storie om vir hulle ouers te vertel – en belangriker, die Oosie-ervaring van ‘n leeftyd!.
Die hoofleiers het wel nog nie genoeg van ons skool gesien nie en daardie aand teruggekeer om saam met nog hoofleiers van ander laerskole in die hotelskool ‘n hoofleiersdinee bywoon. Die dinee het ten doel om aan die hoofleiers ‘n geheelbeeld te bied van wat leierskapsontwikkeling by Hoërskool Oosterlig behels, asook om netwerkgeleenthede tussen die verskillende laerskole uit ons gemeenskap te bied. Die vertrek was pragtig versier en elke hoofleier kon saam met hul ouers heerlike kos én die beste koeksisters wat hulle nog ooit geëet het, geniet. Die glinsteraand was beslis ‘n groot sukses en elkeen teenwoordig het weggestap met ‘n besonderse boodskap rakende wat nuuskierige leiers moet wees te danke aan Gielie Hofman, die gasspreker van die aand. Die Oosies se element van sukses is sonder twyfel by elkeen tuisgebring!