Hoёrskool Dr. Malan het op Saterdag 27 Januarie ‘n opwindende atletiekbyeenkoms aangebied by die Sasolburg Stadion, wat atlete van Hoёrskool Oosterlig, Hoёrskool Dr.Malan, Hoёrskool Kempton Park en Hoёrskool Dinamika saamgebring het vir ‘n dag vol spanning en prestasie.
Die Oosie-atlete het hul talente op die baan en op die veld getoon, van naellope tot langafstande. Juandré Bekker het weereens uitgestaan met die o/19 kort- en langhekkies wat hy met ‘n bliksemsnelle spoed voltooi het. Dianè Botha het ons ook trots gemaak met haar eerste plek in die o/19 800 m en 1 500 m resies.
Hoogspring en verspring het ook hul deel van die opwinding gebring, met Ané Bornman wat ‘n eerste plek in die o/17 dogters verspring behaal het. Die Oosies het hul krag en vaardighede gedemonstreer by die gewigstoot, spiesgooi en diskus waar Neithan Botha goud verower het vir o/17 spiesgooi.
Ons blitssnelle Dylan Jordaan (o/17) en Jessica Botha (o/16) het onderskeidelik eerste plekke behaal in die o/17 100 m en 200 m wedlope, en o/ 16 100 m, 200 m en korthekkies.
Laastens het ons aflosspanne, soos gewoonlik, beïndruk met hul spoed en tegniek. Die dag het ‘n gemeensskapsgevoel geskep, met vriende, familie en ondersteuners wat die geleentheid bygewoon het om die Oosies aan te moedig en te ondersteun.
Wel gedaan, Oosies! Julle maak ons trots!
Kayla van Dalen