~ Tristen Brewis

Op Vrydag, 9 Januarie 2022, verwelkom ons spoggerige skool, Oosterlig – natuurlik dié skool in Boksburg – die splinternuwe graad 8’s vir hul inlywingskamp. Na ure se toustaan om elke Groentjie op die biometriese stelsel te registreer, begin hulle opwindende Oosie-reis.

Die Ad Astra-Oosies het omtrent oorgeborrel van entoesiasme. Die Vrydagoggend het vroeg-vroeg afgeskop met ysbrekerspeletjies. Onverwagte en buitengewone talente is ontdek. Uit pure opgewondenheid het sommige Oosies skoon vergeet om sonskerm aan te smeer, maar dit kon steeds nie hulle geesdrif blus nie!

‘n Onverwagte reënbui kon ook nie die nuwelinge se entoesiasme uitdoof nie. Die leiers het innoverend opgetree en blitsig ‘n ander.plan gemaak. Dans, dans, dans …ons wil… net  … dans! So leer die leiers vir die nuwe Oosie-groentjies ‘n paar indrukwekkende danspassies vir die naderende konsert. Die Groentjies het wragtig amper die vloer aan die brand gesteek! Die voete was lekker los en jeukerig.  Die entoesiasme was aansteeklik onder ons nuwe Oosies en die atmosfeer was prettig.

Saterdagoggend begin ons met speletjies en waterspele. Die waterspeletjies sorg vir groot pret, en almal het hulself ‘n hond uit ‘n bos geniet. Die Nebulas was lekker uitgeput, maar ten spyte daarvan vol energie  (te danke aan die snoepie se “energy bars”).Na ‘n lekker kenmekaar en vol dag is die Nebulas bederf met baie lekker sappige hoenderburgers. Ons Oosie-snoepietannies weet net hoe om magies vol te hou met smaaklike etes.

Na ‘n hele dag van sweet, swoeg, speletjies en konsertoefening het die aand met ‘n groot hoogtepunt geëindig … ons finale kampkonsert! Ons moeë lywe het hoendervleis gekry toe die graad 8-voogpersoneel op die verhoog begin dans. Hierdie konsert was beslis een vir die boeke!

Sondagoggend begin douvoordag. Na min slaap en met min energie is die volgende taak aangepak. Soos die tradisie dit vereis, begin die dag met die memorisering van ons erekodes. Ons sluit die woelige naweek se verrigtinge oudergewoonte af met ‘n pragtige kerkdiens.

Ons is trots om ons nuwe graad 8-leerlinge te verwelkom! Julle is waarlik nou deel van ons familie.

 OosterBeeld Joernalis

OosterBeeld Joernalis

Tristen Brewis

My naam is Tristen Brewis en ek is in die Oosie Redaksie omdat artikels skryf my in ‘n positiewe manier uitdaag. Ek geniet dit om artikels te skryf en hoop dat my mede oosies my skyfstukke ewe sal geniet.

Ek is geëerd om in die posisie te wees om die opwindende gebeure van ons skool te kan rapporteer via die Oosterbeeld!