~ Zoë Muller
Soos die legendariese William Shakespeare in sy toneelstuk, As you like it, aangevoer het:
“All the world’s a stage, and all the men and women merely players”.
Saterdag, 22 April 2023, skop die Dramaklub die lang aand wat op hul wag af met ‘n opwarmingsessie en dramaspeletjies om hul stemme op te warm vir die aand se repetisie. Die klub se geliefde kostuumontwerper, Kobus – of soos wat hy onder die lede bekendstaan, Kersvader, het ook sy visie vir die kostuums van hierdie jaar se produksie gedeel en die akteurs se mates geneem om pragtige kostuums te kan optower. Nes Shakespeare se woorde aan sy seun “apparel oft proclaims the man”, deel die Dramaklub die sentiment sommer doodgewoon as: “the clothes maketh the man”.
Uit kameraadskapsgees het die dramaklub ‘n heerlike verskeidenheid pizzas vir aandete geniet waarna hul ‘n unieke kreet ontwikkel het. Die kreatiewe kreet het beslis die lagspiere geprikkel.
Die aand het, soos wat die lede ywerig geoefen en hul tonele bemeester het, ‘n perfekte balans gehandhaaf tussen pret en harde werk.
Juffrou Prins, die talentvolle mederegisseuse, het ‘n energieke en opspraakwekkende demonstrasie aan die groep ‘boelies’ in die toneel gebied om die akteurs te ïnspireer om hul vertonings tot nuwe hoogtes te verhef.
Die lang nag van oefening, grappies en welverdiende pouses het uiteindelik plek gemaak vir die aanbreek van ‘n nuwe dag, en die laaste tradisie van die Oosie-Dramaklub: die inlywingseremonie. Soos alle dramakinders, het die nuwe lede aan ‘n reeks uitdagings deelgeneem. Ná al die aksie het die nuwe lede oor die vierkant beweeg waar die ou dramalede ‘n erewag gevorm het om vir hulle hande te klap in gelukwensing.
Dié tradisievaste aand was propvol passie, toewyding en kreatiwiteit gelaai, en die Oosie-Dramaklub sal beslis ‘n prominente stempel op die verhoog van die wêreld laat.
Juffrou Koekemoer (die regisseuse en die skrywer van die toneel) het haar dank uitgespreek: “Ek is trots op elke Dramaklublid se meelewing , goeie gesindheid en gees. Ek sien uit na ‘n wonderlike drama seisoen en kan nie wag om te sien wat die dramaklub alles vermag met hulle toneelstuk, Hokke, nie!”
Dié legendariese skrywer het in haar nuutste toneelstuk, Hokke, die volgende tot stand gebring: “Ek sien hokke, koue hokke, wat ons in tronke vasvang. Tronke wat julle geskep het. Hoe lank gaan ons dit uitstaan agter die tralies? Wanneer gaan ons vry wees?” Mag die 2023-seisoen bevrydend wees vir elke lid van die oosie-Dramaklub!