Hoërskool Oosterlig se graad 8’s se 2024 akademiese skooljaar het twee dae vroeër afgeskop met die BOOTCAMP wat Maandag en Dinsdag, 15 en 16 Januarie 2024, plaasgevind het. Die leerders het basislynasseserings in die drie hoofvakke afgelê: Afrikaans, Engels en Wiskunde. Dít gee vir die Oosie-onnies ‘n aanduiding op watter standaard elke leerder is en waaraan gewerk en gefokus moet word. Dit skep verder ook die geleentheid vir die neutrone om die skool en die Oosie-waardes en -tradisies beter te leer ken en te verstaan onder leiding van die elektrone. Die leerders het Dinsdag, 16 Januarie 2024, atletiekuitdunne gehad om die bloed tussen die breinkrag te laat vloei, en het hulself uit hulle sokkies uit geniet. Leerders is aan nuwe atletiekitems en -tegnieke voorgestel en baie leerders het nuwe talente gevind. Die Oosies streef beslis daarna dat elke leerder holisties sal groei en ontwikkel. Geniet die hoërskool, graad 8’s van 2024, en onthou om alles tot die beste van jul vermoëns aan te pak… en met die regte ingesteldheid!
Cheniqua Blom