Op 26 Januarie het die tennisspelers van Hoërskool Oosterlig, onder leiding van Mnr. Fouché en Juf. Herman, vroeg by mekaar gekom en kon nie wag om by Buffelspoort hul jaarlikse oefenkamp af te skop nie!  Alle belangstellende leerlinge word jaarliks die kans gegun om die oefenkamp by te woon ten einde die spanne te finaliseer.   

Kort na hul aankoms by die vakansie-oord het die spanne hulle eerste stel wedstryde begin speel waar hulle punte aangeteken is.  Die beste speelster vir die naweek was Eileen de Villiers (Graad 8) met 37 punte.  Die beste speler, met 91 punte, was Aidan Blaauw (Graad 11), hy is ook algehele wenner vir die naweek. 

OosterBeeld het met van die spelers gesels na afloop van die kamp, en hulle het dit eens, die kamp was ‘n groot sukses:

“Die kamp was baie lekker, ons het almal ‘n goeie tyd gehad (en ons het BAIE tennis gespeel). Ek sal beslis volgende jaar weer op die kamp gaan” – Japie Botha

“Ons het Vrydagoggend so half 10 daar aangekom en toe begin ons dadelik om tennis te speel.  Dit was baie warm. Ons het vir ontbyt warmbrakke gekry om te eet wat baie lekker was. Die meisies het baie minder wedstryde gespeel as die seuns. Ons was 15 seuns en 7 dogters. Ons het wel ook baie geswem om af te koel. Ek het die kamp baie geniet” – Aidan Blaauw

 “Ek voel die kamp was ‘n groot sukses gewees. Ek sal definitief weer op die kamp gaan!” – Marné de Swardt 

 “Dit was baie lekker. Ek het nuwe vriende gemaak en lekker geoefen. Ons het lekker geswem en goeie kos geëet en dit was baie mooi daar in Buffelspoort. Ek sal dit definitief volgende jaar weer doen.” – Eileen De Villiers 

Dit is duidelik dat ons Oosie-tennisspan die kamp baie geniet het en met nuwe moed die seisoen gaan aanpak.  Ons wens julle elkeen sterkte toe met die toernooie wat voorlê.

Chené Appelcryn