~ Clarissa Venter

Enige Oosie het die potensiaal om baie te bereik: Of dit nou op die sportveld is, tydens kultuuraktiwiteite of op akademiese gebied. Alhoewel ons as skool bevoorreg is, is daar party van ons mede-leerders wat nie so bevoorreg is nie, en dit is ons plig as Oosies om ons naaste te help. Daar blom positiweit tussendeur die dorings van die werklikheid – die hoeveelheid families wat hulp nodig gehad het, het afgeneem ná die Covid 19-pandemie.

Met behulp van die gemeenskap samel die Oosies kos en ander basiese produkte vir families wat dit nodig het in. Só het Oomgeeweek ontstaan, met die doel om ons Koskas vol te kry met die nodige items en voedsel om families in ons eie Oosie-gemeenskap te help.

Gee die Oosies selfs net ‘n vier dag-week, en ons sal steeds voorsiening maak!  Almal in die skool het gehelp, die personeel ook. Die leerders het getrou gebly aan die doelwit wat gestel is. Volgens die week se organiseerder, Me Herron, het die Oosies haar trots gemaak. Die OosterBeeld bedank ELKEEN vir hulle hulp, ondersteuningen omgee-gees tydens dié week.

Die Oosterlig-Koskas is so propvol soos jou maag ná ‘n kersete. Genoeg geld en bydraes is ingesamel om selfs nog meer voorraad aan te koop waar nodig en om aan ons Oosie-gemeenskap se behoeftes vir die kwartaal te voldoen – dankie, Oosies!.

Ek sluit af met die volgende woorde, ‘n Oosie se nalatenskap:

‘n Bietjie hulp en vriendelikheid klink dalk nie na veel nie, maar waar jy ‘n ander kan help, beteken dit altyd baie meer as wat jy besef!