– Donné Fowler

Die Oosies het Vrydag, 17 Februarie 2023, Oosterlig se naam hoog gehou by Herman Immelman-stadion.

Die busse het vroeg Vrydagoggend reeds om 7 uur vertrek om die Oosies na die stadion te neem. Dit was die meeste van die Oosies se eerste Interhoër, aangesien dié geleentheid vir twee jaar uitgestel is as gevolg van die Covid-19 pandemie.
Die Oosies het glad nie teleurgestel nie. Ons het weereens die Geesbeker vir die sewende agtereenvolgende jaar gewen! Hierdie jaar se tema was ‘Oosies are on top op the world’.
Die dirigente het die danse oorspronklik gechoreografeer om by die tema te pas. Ons het nie net die Geesbeker gewen nie, maar is ook aangewys as die skool met die beste dirigente.
Die dogters- en seunsatlete het elk ‘n tweede plek behaal. Oosterlig het gevolglik ‘n algehele tweede plek behaal. Baie dankie aan al die atlete wat trots in rooi en blou deelgeneem het.

Die pompoms het verder ‘n uitstekende optrede gelewer. Die hoofpompom, Kaylize Schutte, het gesê dat dit vir haar in die begin baie stresvol was, en dat sy nie seker was of sy dié verantwoordelikheid sou kon baasraak nie – of sy die span tot die beste van haar vermoë sou kon lei nie. Ek dink dit blyk duidelik dat sy niks minder as haar beste gegee het nie! ”Hulle almal het my, as hoofpompom, geïnspireer om aan te hou. Almal het so gegroei as dansers en as mense. Ek het ‘n spesiale plekkie in my hartjie vir hierdie groep meisies. Al die fiksheid, trane, armoefeninge en selfs val was beslis die moeite werd, want ons het absoluut voortreflik gelyk!”

Baie dankie aan die 450 Oosies wat saam met die dirigente en juffouens C. Herron en G. Herron gewerk het op die pawiljoene en wat die dag saam as ‘n skool spandeer en geniet het. ‘n Klein bietjie reën het glad nie hierdie groep Oosies se gees gekniehalter nie!
Juffou G. Herron sê: ”There were nearly 700 Oosies at Interhigh yesterday. Every one of them worked very hard and made us so proud to be the hosting school.”

Al die Oosies is opgewonde om te sien wat vir Interhoër 2024 beplan word!