Hoërskool Brandwag het op 2 Februarie 2024 atlete van Hoërskool Oosterlig, Hoërskool Alberton en Alberton High School genooi  vir ‘n opwindende atletiekbyeenkoms. Te midde van ontluikende kompetisie het elke Oosie, van o/14 tot o/19, hul merk op die atletiekbaan gemaak. Hier volg ‘n blik op die opmerklikste oomblikke wat die dag gekenmerk het.

Een van die hoogtepunte van die dag was die o/19 dogters 200 m waar Cindy Pretorius haar teenstanders agtergelaat het om die eerste plek te verower. Dieselfde eer is aan Joël Jordaan bewys in die o/19 seuns 200 m.

Jessica Sherrard het bewys dat sy top is in die o/19 dogters 800 m, terwyl Diané Botha die o/19 dogters 1 500 m met oortuiging gewen het. Hierdie atlete het nie net hul fisiese vaardighede, maar ook hul uithouvermoë en toewyding tot die sport bewys. Eloise Stander het die skool se naam hoog gehou deur die o/19 dogters 100 m hekkies te wen, terwyl Juandré Bekker die o/19 seuns 110 m hekkies oorheers het.

Charmaine Sikhosana het haar indruk gemaak deur die dogters o/19 400 m hekkies te wen, terwyl Tristan van Niekerk die o/19 seuns hoogspring kategorie vir homself geëis het. Robyn Baker het die o/19 dogters verspring gewen en haar vaardighede op die atletiekbaan duidelik uitgebeeld.

In die o/17 kategorie het Dylan Jordaan die seuns 200 m gedomineer, terwyl Ané Bornman die dogters 400 m hekkies gewen het.

In die o/16 kategorie het Jessica Botha uitgeblink deur beide die 100 m en 200 m vir die dogters te wen. Dian van Aswegen het sy kompetisie in die seuns 200 m en verspring kafgedraf, terwyl Dian Barnard die seuns 800 m en 1 500 m met oorwinning afgesluit het. Ilze-Marie van der Walt het die dogters 1 500 m gewen en Anja Bezuidenhout het haar vermoëns in diskus vir dogters ten toon gestel deur ‘n eerste plek te behaal.

Die jonger atlete het nie agterweë gebly nie, met opmerklike prestasies in verskeie kategorieë. CJ Engelbrecht het die seuns 1 500 m gewen, terwyl Clarissa du Toit die dogters verspring eerste plek met ‘n indrukwekkende sprong behaal het. Lerien Stroebel het die o/15 dogters diskus met oorweldigende krag gewen en ook ‘n nuwe REKORD gestel vir haar ouderdomsgroep!

Die OosterBeeld is baie trots op elke Oosie se prestasies en sien uit na nog vele hoogtepunte op die atletiekbaan.

Kayla van Dalen