~ Kayleigh van der Merwe

Clerise Redelinghuys, graad 11, het die naweek van 15 en 16 April aan die Two Oceans-wedloop in Kaapstad deelgeneem. Sy het reeds Donderdagaand, 13 April 2023, saam met haar ma afgevlieg om Sondag, 16 April 2023, in die D-groep weg te spring en die groot draf van 21.1 km aan te pak.

Sondag was nie haar eerste Two Oceans nie. In 2022 het sy haar ouers oortuig om haar in te skryf sodat sy die wedloop vir haar sestiende verjaarsdag kan hardloop, want hardloop is vir haar ‘n fees en ‘n passie. Daardie jaar het sy in 2 ure en 30 minute die wedloop voltooi. Sy het toe reeds besluit dat sy sou teruggaan om haarself te druk en dit onder 2 ure te voltooi. Hierdie jaar het sy ingeklok op 2 ure en 7 sekondes.

Clerise het aan die OosterBeeld verduidelik dat sy nie daardie sewe sekondes wil afrond nie, sy wil eerder in 2024 weer deelneem om die 2 ure-kloktyd te behaal. Haar doelwit is om aan 10 Two Oceans deel te neem sodat sy die hooggesogte blou nommer kan kry en in die A-groep kan wegspring.
Ten spyte van haar eie teleurstelling rakende die ekstra sewe sekondes, verdien sy in die Oosies se oë ‘n klop op die skouer, want selfs met daardie tyd het sy as ‘n junior (uit ‘n groep van 2 568 juniors) 17de plek behaal – ‘n prestasie om baie trots op te wees!

Die Two Oceans as geheelervaring was vir haar groot pret en die ondersteuning van die toeskouers met koeiklokke langs die pad was vir haar spesiaal. Die uitsig was volgens Clerise net so besonders en het die 21.1 km-wedloop bietjie verlig.

Hou so aan, Tjops!