~Donné Fowler

Die skaakspelers van Hoërskool Oosterlig het bevredigend in ‘n onlangse skaak-kompetisie gevaar. Op 13 Mei 2023 het Oosterlig se skaakspelers deelgeneem aan die individuele speler-distrikfinaal. Baie geluk aan Rocco Aldum en Carla Aldum wat albei goue medaljies verwerf het en boonop gekies is vir die Ekurhuleni Skaakspan. Die twee Oosies gaan aan die Gauteng-kampioenskappe deelneem wat op 27 Mei plaasvind.

Spelers speel individuele wedstryde wat saamgetel word om die spantotaal op te maak. Die liga bestaan uit 6 poelwedstryde waarvan die eerste twee spanne deurdring na die Distrikfinale wat in Augustus sal plaasvind.

Die Oosie-skaak het ‘n senior en ‘n junior span ingeskryf. Elke span bestaan uit ses spelers. Die beste speler in die span speel op bord 1, maar spelers kan mekaar uitdaag om op ‘n hoër bord te speel. Rocco Aldum sê: “Dit is baie lekker om iemand uit te daag sodat jy ‘n bord kan opskuif! Mens weet nooit wat gaan gebeur nie, skaak is brutaal en een fout kan jou verpletter. Dit is verseker ‘n motivering om harder te werk as jy weet jy kan opskuif na hoër borde toe. Dié motivering skep ‘n gesonde mededingingsgees in ons span en help ons dan ook om beter te vorder in ons spanwedstryde.”

Juffrou Dela Guerre sê: “Ek geniet dit baie om deel te wees van die skaak. Met skaakspel ontwikkel mens die brein om buite die boks te dink. Jy moet tot vyf skuiwe vooruit kan dink en beplan. Daar berus groot satisfaksie daarin om die teenstander te kan uitoorlê. Ek put genot daaruit om te kan sien hoe die skaakspelers se spel ontwikkel en hoe hulle uit elke wedstryd leer om die groter prentjie raak te sien.”