~ Mieke Dippenaar
Op 11 Januarie 2023 het die graad-aggies die groot sprong geneem met hoop in hulle vreesbevange ogies. Hulle het die eerste twee weke van hulle hoërskoolloopbaan aangedurf. Gou het hulle besef om werklik deel van die F1-span te wees, moet die Flatties “flat-out” vinnig vorentoe versnel gedurende Welkomweek en die Groentjiekonsert.
“IS JULLE REG, FLATTIES??!!”
Baie bekende woorde wat vir twee weke deur die skoolgebou weergalm het … Die rede? Die Termometers (leierskomitee) oriënteer die Groentjies eie aan Oosie-tradisie.
Sommer vinnig kom die Flatties se oriëntering tot ‘n einde, maar nie voor hulle die renbaan van Welkomweek en die Groentjiekonsert betree ten aanskoue van ‘n skare angswekkende senior-Oosies nie.
WELKOMWEEK (16 Januarie – 20 Januarie)
Die Flatties moes elke dag hulle F1-kreatiwiteit tot die uiterste beproef ten einde nog ‘n podiumvlak op te beweeg. Maandag moes hulle hardloopskoene aantrek soos ‘n maratonatleet. Dinsdag het die stoomtreindrywers lugbesoedeling veroorsaak en Woensdag was almal opgetof soos hul gunsteling F1-span.
Groot was ons verbasing toe die Flatties Donderdag skoon van rat verwissel en hul verkeersligkostuums ophelder soos regte egte robotte. Self Eskom was verstom. Uiteindelik breek Vrydag aan en die Flatties kom te staan voor hul Achilleshiel… Die Erekode!!!
GROENTJIEKONSERT (24 Januarie-26 Januarie)
Vir die Termometers styg die kwik hoog. Die Flatties funksioneer in 5de rat en die laaste rondte veroorsaak ‘n magtige dreuning. Volgens die gehoor se terugvoer het die Flatties net geen brieke aangedraai nie en die geruite vlag is helaas gehys. F2-Flatties staan eerste op die podium as F1-Oosies.
Flatties, ons groet julle.
Oosies, ons verwelkom julle!