~ Chiara Dover

Tik. Tak. Tik. Tak. Die tyd tik. Die uurglassand loop uit. Somtyds stadig, maar altyd vinniger en dikwels sonder dat ons dit besef. Juffrou Linda Ernst het vir die eerste maande van 2023 by Hoërskool Oosterlig  Afrikaans en Lewensoriëntering aangebied. Haar uurglassand by Oosterlig het ongelukkig nou uitgeloop. Juffrou Ernst het al op die eerste dag ‘n indruk op die Oosies gemaak en haar drif was onvermydelik. Dit was so duidelik soos daglig dat Juffrou ‘n passie en ‘n roeping vir onderwys het. Daar was elke dag iets te leer in haar klas – al  was dit slegs om betyds te wees.

Juffrou Ernst se onderrigvernuf het daarop gedui dat sy bestem is vir groot dinge.  Woorde wek, maar voorbeelde trek. Juffrou het vinnig die range geklim van onderwyser by Hoërskool Kemptonpark tot ‘n departementshoof by Hoërskool Oosterlig en nou ‘n vakadviseur vir Afrikaans by die distrikskantoor: Ekurhuleni Noord Distrik.  Sy gaan die vak bevorder en verryk – en verseker dat die taal entoesiasties en ywerig  in skole geïmplimenteer word. Haar grootste spyt is dat sy nie meer met kinders gaan werk nie.

In die kort tyd wat Juffrou by ons deurgebring het, het sy waardering getoon vir die ongelooflike skoon skool waarin ons onderrig word. Sy het die respek wat die kinders vir mekaar het raakgesien en geniet om saam met die vriendelike personeel te werk in ‘n plek waar Juffrou altyd geliefd en verwelkom gevoel het. Sy laat graag aan haar leerders die volgende na: “Ek hoop julle ontwikkel ‘n passie vir leer en sien daar’s ‘n groter prentjie as akademie op skool. Die waardes in die klaskamer help jou vir jou lewe ná skool. Die akademie wat jy leer is nie so belangrik nie, maar wel die faktore, mense en lesse wat jou ontwikkel as mens – die verborge kurrikulum.”  

Juffrou Ernst gebruik elke korreltjie sand wat sy kan kry en werk vir die toekoms. Ons moet in haar voetspore in die uurglassand volg en die tyd wat ons het ten volle benut. Sterkte op Juffrou se lewenspad vorentoe. Ons sê dan sommer vir juffrou ‘Ciao’ wat hello en totsiens beteken in Italiaans, en dit omsluit ook dan die kort rukkie tussenin.